Kinders hoor gereeld: “Reik na die sterre”.
Vir die agtjarige Zoëy McQuire van Malmesbury ís die sterre binne bereik met haar verskuilde talent vir toneelspel. Sy kan binnekort haar eerste rol op die kassie losslaan nadat sy onlangs beoordelaars se asem by ’n oudisie vir ’n kortfliek weggeslaan het.
Zoëy, ’n leerder aan die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM), vermaak haar ouers, Tim en Saskia McQuire, reeds van ’n baie jong ouderdom af met ’n opvoering of twee. Daarom het hulle dit goedgedink om Zoëy twee jaar gelede vir die sangeres Sonja Herold se destydse kompetisie, Wysneusie, in te skryf. Haar ma sê Zoëy se foto wat uit dié kompetisie gespruit het, is deur ABC Produksies raakgesien. Sy is uit duisende inskrywings vir dié oudisie genooi, wat op 16 Januarie vanjaar by Reddam House in Durbanville se ouditorium plaasgevind het. Zoëy se oudisie was natuurlik suksesvol. Die beoordelaars was Bradley Olivier (Binnelanders), Irshaad Ally (Suidooster) en die sangeres Amor Vitone.
Haar ouers beskryf haar ook as hul “engelkind” nadat sy die wêreld op 30 weke binnegekom het. Sy was drie maande in die neonatale waakeenheid by Mediclinic Paarl en op ’n ventilator by die Christiaan Barnard-hospitaal terwyl haar toestand wipplank gery het. Haar ouers is gereeld gevra om te kom groet wanneer dokters gedink het sy gaan dit nie maak nie. Zoëy is die eerste keer met suurstof huis toe gestuur.
Benewens ’n moeilike begin, gryp Zoëy alle geleenthede aan – soos die oudisie, wat nie elke dag in jou skoot val nie. Die oudisies was vir ’n moontlike rol in verskeie kortflieks wat op kanaal 147 op DSTV uitgesaai gaan word. Om vir ’n rol in aanmerking te kom, moet sy egter eers vir ’n filmkursus, aangebied deur Speeltoneel, gaan voordat sy kan dink aan die woorde “ligte, kamera, aksie”. Sy het nog nooit in ’n rolprent gespeel nie, daarom het ABC Produksies vereis dat sy eers vir die kursus gaan, vertel Saskia. Die kursus kos R15 000 en die spertyd vir dié betaling is verleng na Dinsdag 15 Februarie. Haar ouers het die nuus verlede week ontvang.
Zoëy sien ongelooflik baie uit na die moontlikheid om in ’n fliek te wees en kan nie wag om haar lyf aktrise te hou nie. Dit is ook haar ouers se wens dat dit ’n werklikheid word, veral ná ’n moeilike 2021 met die afstaan van haar geliefde oupa aan die dood en talle hospitaalbesoeke wat daarna gevolg het. Sy kon nie haar oupa se dood, maar ook alle struikelblokke wat die afgelope twee jaar se inperking ingehou het, maklik verwerk nie, voeg haar ma by.
Die inskrywingsbedrag was tot nou ongelukkig nie haalbaar vir die McQuires nie. Indien sy nie aan die kursus deelneem nie, is sy vir nou haar rol kwyt. Indien enigiemand kan help om Zoëy se wens te bewaarheid om binnekort op die kassie te kan verskyn, kan hulle Saskia by 082 322 0254 bel.