’n Manjifieke boulvertoning van een van Hoërskool Swartland (HSS) se leerders het onlangs asems vir ’n ses weggeslaan.
André Beukes (18), ’n graad 12-leerder aan HSS, het op 29 Januarie harte warm laat klop toe hy binne 10 boulbeurte daarin geslaag het om agt paaltjies te neem en slegs nege lopies af te staan. HSS se eerste krieketspan het op daardie dag, met die kwik wat boonop by 43 °C gedraai het, teen Hoërskool Laborie in die Paarl gespeel.
Hein Pieterse, die span se hoofafrigter, sê almal is baie trots op Beukes. “André het baie hard gewerk en hy pluk nou die vrugte daarvan. Dit is ’n besonderse prestasie.”
Beukes het in gr. 9 vir die eerste krieketspan begin speel. Hy het in 2019 reeds aandag op die krieketveld getrek toe hy vyf paaltjies in ’n interskole-wedstryd teen Hoërskool Hugenote platgetrek het.
Sy ouers, René en Bettina Beukes, is net so trots op hom en is dankbaar dat die kinders weer aan sport kan deelneem. Beukes is as speler van die wedstryd aangewys. Die bal waarmee hy gespeel het, is ook spesiaal vir hom gemonteer, vertel sy pa.
Beukes het al sy skool se eerste hokkie-, krieket- en rugbyspan verteenwoordig. Pieterse is dit eens dat Beukes baie versteekte talente op die sportveld koester.
Bertie Gerber, sportorganiseerder by HSS sedert 2015, beskryf Beukes se boulwerk as ’n ongelooflike prestasie.
HSS het die afgelope naweek die interskole-krieketwedstryd teen Hugenote Hoërskool met 76 lopies gewen. Dit was die tweede agtereenvolgende jaar wat HSS se 1ste krieketspan as die wenners aangekondig is. Lincoln Swart het op sy beurt sewe paaltjies geneem.