Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg pronk vanjaar met ses A-gemiddeldes uit 70 leerders wat verlede jaar die nasionale seniorsertifikaateksamen afgelê het. Daarmee saam het 67 vakonderskeidings uitgedop.
Altesaam 93% het universiteitstoelating behaal.
Die skool se slaagsyfer is 97% en die toppresteerder is Jana de Waal, wat ’n uitstekende 97% aangeteken het. Sy skryf haar uitslae aan die Here toe wat haar die dryfkrag en die vermoë gegee het om die goeie punte te kon behaal. De Waal voeg egter by dat sy heeltemal uit die veld geslaan is toe haar naam as die toppresteerder van haar skool aangekondig is. Sy vertel ook van haar sterk ondersteuningsnetwerk – ’n groot familie en ook haar wonderlike onderwysers en vriende wat bankvas agter haar gestaan het. De Waal sê sy het ’n sterk wil van haar eie, wat gewis tot haar goeie uitslae bygedra het. Sy gaan vanjaar spraak, -taal- en gehoorterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Haar boodskap aan vanjaar se matrieks is: “Hoewel 2022 dalk nie jul idee van ’n perfekte jaar is nie, sal julle vir ewig die matriekklas van 2022 wees. Maak dit onvergeetlik. Gryp elke oomblik aan, doen alles voluit, wees mekaar se steunpilaar en byt vas totdat jy jou pen die laaste keer neersit.”
Christiaan Bester het op sy beurt ’n gemiddelde van 91,4% behaal, en Francois Malan ’n gemiddelde van 85,1%.