6 Duim te kort vir Villa

Montagu Villagers – of “6 Duim”, soos hy alom bekend is – het Saterdag (26 Maart) op Bolandpark in Worcester sy rieme lelik styfgeloop toe Worcester Villagers (Villa) hom in ’n vriendskaplike wedstryd 66-12 afgestof het – dít nadat die tuisspan teen


Montagu Villagers – of “6 Duim”, soos hy alom bekend is – het Saterdag (26 Maart) op Bolandpark in Worcester sy rieme lelik styfgeloop toe Worcester Villagers (Villa) hom in ’n vriendskaplike wedstryd 66-12 afgestof het – dít nadat die tuisspan teen rustyd reeds gemaklik 26-5 voorgeloop het.

Die wedstryd het groot belangstelling gelok omdat “6 Duim” reeds vanjaar met Robertson Town en Roses United van Wellington klaargespeel en Villa voor Saterdag se wedstryd maar erg gesukkel het.

Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop met Villa wat sommer in die derde minuut ’n strafskop reg voor Montagu se pale afgedwing het. Teen die verwagting in het hulle nie pale toe geskop nie, maar met ’n algehele aanslag vorendag gekom waar sy skrumskakel, Daveron-Leigh Baadjies, oorgegaan en sy heelagter, Larren Buys, verdoel het.

Die telling het vinnig gegroei toe sy loskopstut, Jashrie Karriem, hierna met brute krag oorgebeur en Buys weer met die doelskop geslaag het.

Montagu het egter gou tot verhaal gekom en punte aangeteken toe sy kaptein, die senter Adriaan Claassen, ’n drie gedruk het, wat sy heelagter, Handre Ontong, ongelukkig nie kon verdoel nie. Henrico Jacobs, Villa se buitesenter en nuwe vlugvoetige aanwins, het hierna skitterend gebreek, en toe hy voorgekeer word, was Lorenzo Muggels, nog ’n nuwe aanwins-vleuel, by om onder die pale af te rond. Buys se suksesvolle doelskop het Villa teen rustyd 21-5 laat voorloop.

Die tweede helfte het teen dieselfde tempo hervat met Villa wat geheel en al in beheer was. Eers is sy kaptein, die binnesenter Zeke Jansen, oor vir ’n onvervyfde drie, waarna Buys skitterend gebreek het. Toe hy voorgekeer word, was Muggels weer by om langs die pale oor te gaan. Met Buys se doelskop het die telling tot 33-5 gegroei. Hierna het Villa se plaasvervanger-senter Jenno April skerp gebruik en Buys oorgestuur vir ’n drie wat laasgenoemde ongelukkig self nie kon verdoel nie.

Die manne van Montagu wou egter nie bes gee nie en is beloon met ’n sewepunter toe Ontong oor is en hy self verdoel het om die agterstand tot 38-12 te laat krimp.

Hierna het April weer vlymskerp gebreek, en toe hy voorgekeer word, was die plaasvervanger-skrumskakel Chris Daniel by om te druk. Vegan Carolus, nog ’n plaasvervanger, het verdoel.

Villa was in volle beheer en het die bal lekker lug gegee en die voor- en agterspelers het spontaan aan verskeie aanslae deelgeneem. Een het op ’n drie deur Jacobs uitgeloop, wat Carolus verdoel het om die telling tot 52-12 te laat groei. Hierna is April self oor en Carolus het verdoel om die telling tot 59-12 te rek. Carolus het die spyker kort voor die einde verder in “6 Duim” se kis geslaan toe hy self gedruk én verdoel het om die eindtelling op 66-12 te staan te bring. . In die hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes Montagu Villagers B 45-12 geklop nadat hulle teen rustyd 26-7 voor was, terwyl Villa se derde span hul eweknieë van die Koo 19-5 die loef afgesteek het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.