500 hou 17 000 gyselaar

“Net 500 misdadigers hou 17 000 inwoners gyselaar.”.


“Net 500 misdadigers hou 17 000 inwoners gyselaar.”

Dié stelling is op die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se spesiale raadsvergadering, wat Dinsdag 1 Maart in Piketberg gehou is, geuiter.

Die raadsvergadering is gehou om die kommerwekkende toename in geweldmisdaad, veral moord, in die Bergriviergebied te bespreek.

Sommige van die onlangse moorde, wat tot die nodigheid van hierdie vergadering gelei het, is die polisieman van Piketberg wat daarvan aangekla word dat hy sy vriendin in die middedorp vermoor het; drie jongmense wat in Porterville doodgesteek is; en ’n vrou van Velddrif wat gesterf het nadat haar lewensmaat haar wreedaardig gemartel het en sy noodlottige komplikasies weens haar beserings opgedoen het.

Dié sake is almal hangende en wag op hofverrigtinge.

Ray van Rooy, die burgemeester van die BM, het in sy verslag in die raadsaal gesê die oorsaak van die toename in veral gewelddadige misdaad in die gebied blyk armoede, werkloosheid, ’n gebrek aan mense se respek vir hul medemens en gesinswaardes, dwelms, tieners wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie, tienerswangerskappe en geldgierigheid te wees. Volgens hom dra die polisie se ernstige tekort aan hulpbronne, personeel en ’n gebrek aan vaardighede onder die polisiebeamptes tot die toename in misdaad by. Hy sê dit is sleg dat sommige van die polisiekantore in die gebied snags soms net een polisiebeampte aan diens het.

“Verder het ons ekonomiese ontwikkeling nodig om ’n gesonde en veilige omgewing te bevorder. As politieke leiers kan ons nie staan en toekyk terwyl ons mense in vrees lewe nie,” het hy bygevoeg.

“Vergifnis en versoening is nodig. Kerke en organisasies het ’n groter rol om te vervul. Ons kan nie wag totdat nog ’n bejaarde, vrou of kind vermoor of verkrag word nie.”

Elke politieke party wat in die raadsaal verteenwoordig was, naamlik die DA, die ANC, GOOD en die PA, is die geleentheid gegee om hul insae ten opsigte van die probleem en moontlike oplossings te lewer. Die gesamentlike gevoel in die raadsaal was dat die onlangse moorde die gemeenskap getraumatiseer het, dat die mense vir hul veiligheid vrees en dat staatsdepartemente, kerke, nieregeringsorganisasies en die private sektor moet saamwerk om van die Bergriviergebied ’n veiliger plek vir sy inwoners te maak.

Mario Wessels, die onderburgemeester, het gesê hy keur geen vigilante-gedrag goed nie, maar voel die gemeenskap kan nie meer net wegkyk van die probleme in hul midde nie. Hulle moet hul stemme oor misdaad laat hoor.

“Die munisipaliteit kan dit nie alleen doen nie. Ons het die hulp van die burgers en veral die private sektor nodig. Ernstige geweldsmisdaad manifesteer nadat owerhede nie streng genoeg teenoor kleiner misdrywe opgetree het nie,” het hy gesê. Daarom voel hy die klein jakkalsies moet summier uitgeroei word voordat dit ’n groter probleem word.

Evert Manuel, ’n raadslid, het op sy beurt gesê “genoeg is genoeg!” “Mense vra die doodstraf moet teruggebring word. Waarom vra hulle dit? Omdat die stelsels hulle in die steek gelaat het,” meen hy.

Van Rooy het in sy amptelike aanbeveling na afloop van die vergadering gesê politieke partye moet te alle tye weet van alle vorme van misdaad in die gebied, dat die tekortkominge in die polisie opgelos moet word, dat meer aandag gegee moet word aan samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum en wykskomitees en dat straatkomitees gevestig word.

Die munisipaliteit moet ’n prioriteit daarvan maak om te begroot vir veiligheidskameras in hoëmisdaadgebiede. Beter belig­ting in gebiede waar gruweldade snags in die donkerte gepleeg word, is uiters noodsaaklik. Van Rooy het ook aanbeveel dat nouer met die Wes-Kaapse drankraad saamgewerk word en strenger wetstoepassing by kroeë en kuierplekke toegepas word.

Hierop het Manuel voorgestel die polisie moet die raad voorsien van inligting oor gereelde aanrandings by drinkplekke sodat dit oorweeg kan word wanneer hierdie instansies se dranklisensies hernu word.

Die burgemeester het die polisielede wat wel hul werk in moeilike omstandighede goed doen, asook onderwysers en maatskaplike werkers wat hulle puik van hul taak kwyt, bedank.

“Aan die res wat nog nie hul rol reg vervul nie – trek jou broek aan, maak dit vas, neem verantwoordelikheid en doen die werk waarvoor jy aangestel is.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.