Die 19-jarige Ela Meiring van Klaasvoogds by Robertson het ’n eerste plek in haar ouderdomsafdeling in al vier die halfmarathons wat sy tot dusver in 2022 gehardloop het, behaal.
Meiring hardloop al sedert sy 10 is.
“Toe ek tien jaar oud was, het my oom opgehou rook, en om dit uit sy kop te kry, het hy begin stap, en ek het saamgeloop. Ek het toe egter verveeld geraak en begin hardloop, en hy het agterna gehardloop,” vertel sy.
Volgens haar hardloop sy altyd om haar vorige tyd te verbeter. By verlede Saterdag se Twee Oseane-halfmarathon het sy die padwedloop in een uur 35 minute en 46 sekondes voltooi.
“Ek het nie besef ek was voor nie. Vir die eerste 6 km of so was daar een junior vrou voor my, en ek het ná ’n rukkie by haar verbygegaan. Op daardie tydstip was ek onseker of nog ’n junior vrou voor my gehardloop het.
Toe ek by die eindstreep kom, het ek neergeval, want ek het my alles gegee en hard gehardloop. Skielik het ek die kameras voor my gesien en toe sê die onderhoudvoerder ek was eerste. Ek was geskok, want in 2019 het ek in dieselfde wedloop 11de geëindig; ek het dit regtig nie verwag nie.”
Sy het egter nie haar beste tyd van 1h 35m 30s verbeter nie, maar is steeds baie trots op haarself.
“Ek is trots op myself, want ek weet ek het my alles gegee.”
Verder verduidelik sy sy was heel kalm voordat die wedloop begin het.
“Ek dink Covid-19 het my geleer om myself ook geestelik vir so ’n stryd voor te berei. Die kere vantevore was ek nie geestelik gereed nie.”
Meiring meen hardloop het haar baie lesse geleer, soos deursettingsvermoë, uithou en aanhou, en om hard te werk. “Elke keer as ek hardloop, ding ek teen myself en my vorige beste tyd mee met respek vir die kilometers. Vandag gaan dit goed, môre dalk weer sleg