100 redes vir dankbaarheid ondanks inperking

So, hoe vaar jy nog met jou huiskluistyd?



So, hoe vaar jy nog met
jou huiskluistyd?

Het jy dalk reeds jou
leeslysie van agterstallige boeke begin afwerk, foto’s bekyk, laaie netjies
gemaak, legkaarte gebou? Vrees jy dalk nou onvermydelike verveling, gewigstoename
en dat iemand op jou nerwes gaan werk?

Is jou onvervangbare
bederf-items soos sigarette, tafelwyn of bier vir inperkingstyd (amper) opgebruik?
En nou hoor ons voorspellings dat lockdown dalk verleng kan word …

Omdat Suid-Afrikaners
sulke vindingryke mense is, stroom stories in van maniere hoe mense hul tyd
verwyl. Ons hoef nie almal marathons en ystermankompetisies rondom ons huise te
voltooi om trots te voel oor onsself nie. Dis goed genoeg om net jou deeltjie
van daaglikse oefeninge te doen, want dit stel goedvoel-hormone vry, verbeter
die bloedsomloop en dit sal jou beslis help in die dae wanneer ons weer soos voëltjies
uit ons hokkies, die buitewêreld mag aandurf.

Soms is dit goed genoeg
om die borduur- of handwerkprojek, wat al jarelank in jou kas wag, te voltooi. Of
te leer beskuit bak. Probeer asseblief die voorneme om ‘n nuwe musiekinstrument
te bemeester effens op ys plaas. Behalwe as jy bevoorreg genoeg is om ‘n
klankdigkamer in jou huis te hê. Ons probeer juis om nie ons huismaats teen die
mure uit te dryf nie!

Bekruip morbiede
gevoelens jou? As troos moet ons beklemtoon: Dis normaal om daardie gevoelens
van verlies (aan jou daaglikse buitelug-aktiwiteite) te beleef. Maar kom ons
kyk terug op die geskiedenis van die Suid-Afrikaner wat reeds vele
struikelblokke kon oorbrug, kom ons put energie uit die wete dat ons mensdom voorheen
suksesvol kon opstaan uit oorloë, natuurrampe, siektepandemies soos die Groot
Griep – en ons kon die Zuma-fase in die politiek oorleef!

Gelukkig is ons
Hemelvader steeds dieselfde God wat ons deur vorige groot krisisse gehelp het –
Hy kan dit weer doen. Dalk is dit juis nou die tyd om ‘n dankbaarheidsboekie
aan te skaf en daagliks ‘n nuwe rede vir dankbaarwees, daar in te skryf. Dalk
kan jul hele gesin spontaan hierin skryf. Want ‘n dankbare hart demp beslis
negatiewe gedagtes. En dit help ‘n bietjie in die stryd teen ‘n onbedagsame buurman
wat dalk klipharde musiek in die laatnagure speel.

In my
dankbaarheidsboekie sê ek eerstens dankie dat my kinders en kleinkinders gekies
het om die inperkingstyd by ons deur te bring. Tweedens is ek dankbaar dat die gekerfde
uie wat kleinkind per ongeluk met blou verf bespat het, bedoel was vir ‘n kerriepot; dus was
die gewasde, blouerige uie goed gekamoefleer.

Ek is dankbaar oor die
mooie herfsdae; dat ons kan Paasfees vier; vir sosiale media wat ons in kontak
met mekaar kan hou; vir lae virussyfers in die Swartland.

Hoe lyk jou
dankbaarheidslysie?

*Hierdie rubriek is geskryf deur vryskutskrywer, Sarie Nell.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.